LOGIN/TEKEN AAN

Die Groot Sakrekenaar Debat



Opvoeders verskil al verskeie jare oor die plek van sakreknaars in die klaskamer. Daar is dié wat voel dat die sakrekenaar ‘n belangrike rol speel in die moderne wiskunde kurrikulum, terwyl ander glo dat leerders onnodig staat maak op die sakrekenaar vir eenvoudige berekeninge. As ouer van ‘n kind wat wiskunde as vak neem, behoort die volgende ‘n bietjie lig te werp op dié debat:

Die voordele van die sakrekenaar in die klaskamer

Sakrekenaars is gerieflik en akkuraat
Die moderne klaskamer verwelkom die gebruik van tegnologie. Leerders maak gebruik van eBoeke wat hulle aflaai, hulle gebruik die internet vir navorsing en dien hulle huiswerk en opdragte via email in. Eendag sal hulle in werksomstandighede staan waar van hulle verwag word om van die moderne tegnologie gebruik te maak. Dit is dus teenproduktief om die gebruik van sakrekenaars heeltemal uit die wiskundeklaskamer te verban.

Alle tegnologie, insluitend sakrekenaars, het ten doel om die leerporses te vergemaklik. Inderdaad sal die gebruik van die sakrekenaar die oplos van wiskunde probleme vinniger en makilker maak as die gebruik van die “ouskool” pen en papier.

Sakrekenaars sal ook meer akkurate antwoorde bied. Leerders kan sakrekenaars gebruik om hul antwoorde te toets en indien die antwoorde verskil kan hulle makliker die foute opvolg en korrigeer. Op dié manier kan sakrekenaars baie nuttige instrumente wees vir beide leerder en opvoeder.

Sakrekenaars maak wiskunde pret
Dit is geen geheim dat leerders wiskunde as ‘n vervelige vak ag nie! Deur sakrekenaars deel te maak van die leerproses kan onderwysers ‘n mate van pret in die vak inkorporeer. Die aanleer van al die funksies wat die nuutste sakrekenaars bied, kan die leerder wat ietwat sukkel met wiskunde help om die moeiliker wiskunde makliker baas te raak.

Die nadele van die sakrekenaar in die klaskamer

Sakrekenaars maak leerders lui
Sekere opvoeders glo die leerders moet nie gebruik maak van die sakrekenaar om eenvoudige berekeninge soos optel, aftrek, maal en deel te doen nie.  Hulle is bekommerd dat leerders lui sal raak en die vermoë sal verleer om basiese beginsels toe te pas, sonder die gebruik van tegnologie. Hierdie basiese beginsels is van kardinale belang indien leerders enigsins wiskunde as vak gaan neem tydens tersiêre opvoeding. Sekere tersiêre studierigtings, soos ingenieurwese en bourekene, vereis dat die student moeilike probleme moet aanpak sonder die gebruik van ‘n sakrekenaar.

Sakrekenaars kan nie kritiese denke ontwikkel nie
Een van die grootste redes vir teenkanting vir die gebruik van die sakrekenaar, is die feit dat die sakrekenaar nie die stappe aandui van hoe ‘n sekere antwoord verkry is nie. Dit is nie voldoende vir die leerder om net te weet watter knoppies om te druk nie, maar dit is van kardinale belang dat leerders moet weet hoe én hoekom ‘n sekere antwoord verkry is. Leerders moet dus die rasionele redenasie agter die verkryging van die antwoord verstaan en kan toepas. Byvoorbeeld, indien ‘n leerder ‘n langdeling som met behulp van die sakrekeanar doen, sal hulle die korrekte antwoord kry, maar nooit weet hoe die sakrekenaar by die antwoord uitgekom het nie.
 
Goue middeweg
Gelukkig besef die meeste opvoeders dit is onnodig om kant te kies in hierdie groot debat. Dit is moontlik om die leerders te leer hoe om die sakrekenaar te gebruik sonder om té afhanklik daarvan te word. Dit is ook onnodig vir studente om hoofrekene en logiese denke heeltemal agterweë te laat in die gebruik van die sakrekenaar.
By ABC Maths and Science glo ons dat die sleutel tot sukses om wiskunde baas te raak, deurlopende inoefening is. Ons reeks met ekstra oefeninge in elektroniese formaat is opgestel in lyn met die KABV-sillabus en help leerders van graad 1 tot graad 12 om die nodige vaardighede aan te leer om wiskunde, wiskundige geleerdheid en fisies wetenskap suksesvol aan te pak.


Back
Social Media
Contact Us
Cell: 082 8952 966
Email:

Kontak Ons
Sel: 082 8952 966
Epos: