LOGIN/TEKEN AAN

Getalle - Leer om te tel met begrip



Die ontwikkeling van getalbegrip is die eerste stap vir enige wiskunde student op hul pad om van hierdie vak ‘n sukses te maak. Tel is die hoeksteen van getalbegrip en behels die verstaan van wat elke getal beteken asook die verband tussen die getalle. Hierdie vaardigheid word vasgelê by leerders in Graad 1 tot Graad 3 en behels die volgende beginsels:
 
Verstaan wat elke getal beteken en behels
Wanneer kinders leer tel, leer hulle die getalle soos ‘n rympie uit hul kop, wat eintlik net beteken dat hulle die getalle gememoriseer het. Hulle mag dalk onthou dat die getal een voor die getal twee kom, maar hulle het nie noodwendig die begrip van wat die verskil tussen een en twee is nie. Om die leerders te help om hierdie getalbegrip te oefen, maak onderwysers dikwels gebruik van visuele voorwerpe.
 
Indien jy dit tuis wil oefen, kan jy gebruik maak van knope of sade of enige ander voorwerpe tot jou beskikking. Vra dan jou kind om sekere aantal voorwerpe uit te tel. Laat hulle ook die verskillende aantal voorwerpe nader aan mekaar skuif sodat hulle die verskil kan sien tussen die aantalle. So byvoorbeeld sal een ‘n enkele voorwerp behels terwyl twee dubbel soveel voorwerpe as een bevat.


Op hierdie wyse sal jou kind leer dat die getal vyf nie slegs net die vyfde getal in die ry is nie, maar dat dit na ‘n totaal van vyf voorwerpe verwys.
 
Herkenning van die verband tussen getalle
Die volgende stap in getalbegrip is om die verband tussen twee getalle te verstaan. Byvoorbeeld, ‘n belangrike begrip is om te verstaan dat 2 ‘n kleiner getal as 4 is. Hierdie sal hul help om die patroon toe te pas met die inoefening van maal tafels.

Gebruik visuele voorwerpe om die begrip van meer of minder te verstaan:


Met die gebruik van knope as getalle, kan die leerders sien dat die een getal duidelik meer knope bevat as die ander. In hierdie geval bevat die getal 4 dubbel soveel knope as die getal 2. Van hieraan kan die begrip van maal tafels verduidelik word en so ingeoefen word vir die getal 2:


Dit is dus duidelik dat soos die patroon voortbou, die aantal voorwerpe telkens met twee vermeerder. Om dus nou die tweemaal tafel te leer, weet die leerder dat daar elke keer twee meer is as die vorige getal.
 
Identifiseer plekwaarde
Sodra die leerder geleer het om tot meer as 10 te tel, moet hulle die begrip van plekwaarde aanleer. So byvoorbeeld by die getal 15, sal die 1 die tiene verteenwoordig en die 5 die ene verteenwoordig. Hierdie kan dan as volg gevisualiseer word:


Hierdie begrip is belangrik vir die leerders as dit kom by basiese optelling – die leerder sal dus beter begryp dat die tiene opgetel moet word en die ene apart opgetel moet word – beginnende by die ene. As hulle dus gevra word om 15 en 14 op te tel, sal hulle begin deur die ene kolom, 5 en die 4 op te tel wat dan 9 gee. Dan kan die tiene kolom, 1 en 1 bymekaar getel word. Saam is die twee kolomme dan 2 en 9 wat 29 as antwoord gee. Hierdie selfde wyse kan begruik word vir aftrekking.
 
Getalbegrip as ‘n soliede basis vir toekomstige Wiskunde
 
Vir alle kinders is om te leer tel die eerste kennismaking met Wiskunde. Dit vereis die vermoë om abstrak te dink aangesien die getalle simbole is wat die werklikheid voorstel. Fisiese voorwerpe word dus gebruik om getalbegrip in te oefen en te eksperimenteer met verskillende bewerkings asook die verband tussen verskillende getalle.
 
‘n Goeie basis van getalbegrip sal leerders help om wiskundige vaardighede en toepassings daarvan vinniger aan te leer. Daarom is ons elektroniese oefeninge op ons webtuiste van groot hulp om hierdie vaardighede aan te leer en toe te pas.


Back
Social Media
Contact Us
Cell: 082 8952 966
Email:

Kontak Ons
Sel: 082 8952 966
Epos: