LOGIN/TEKEN AAN

Vyf verrassende gebruike van statistiek in ons alledaagse lewe



Statistiek word meermale beskryf as die wetenskap wat met die insameling en ontleding van data (waarnemings) te make het, asook met die maak van gevolgtrekkings en die neem van besluite op grond van dié ontledings. Jy mag dalk dink dat slegs wetenskaplikes en wiskundiges gebruik maak van statistiek, maar ons almal maak egter gereeld van statistiek gebruik in ons alledaagse lewe. Indien jy dit nie glo nie, lees gerus verder.
 
Weervoorspelling
Moet jy jou kortbroek en keps dra, of moet jy jou reënbaadjie saamneem as jy die huis die verlaat? Indien jy die vorige aand na die weervoorspelling gekyk het, en daar was ‘n  50% kans vir donderstorms in die laatmiddag, sal jy heel waarskynlik jou reënbaadjie en/of sambreel inpak.
 
Hierdie weervoorspelling word gebaseer op statistieke en studies van weerpatrone en help miljoene mense om hulle dag te beplan. Om die weer akkuraat te voorspel is veral ook belangrik vir lughawens, treine, busse en ander wyses van vervoer. Slegte weer kan vertragings veroorsaak en motoriste / pendelaars moet dan alternatiewe roetes beplan.
 
Wen met sport
Elke sport denkbaar floreer rondom statistieke - krieket, netbal, rugby en sokker, om net ‘n paar te noem. Statistiek word gebruik om die individue apart te ontleed of om die span as geheel te ontleed. As jy dus weet dat jou opponente slegs  20% van hul weg wedstryde wen en julle speel tuis teen hulle, het julle ‘n goeie kans om te wen.
 
Inkopies
Vervaardigers en groothandelaars versamel massas inligting rakende hul produkte. Hierdie inligting help hulle nie net om hul verkoopsyfers te ontleed nie, maar ook om te voorspel watter en hoeveel produkte  vervaardig moet word of nie.
 
Byvoorbeeld, ‘n fabriek wat ingemaakte produkte vervaardig sal dalk merk dat die navraag na geblikte sop hoër is in die winter. As gevolg hiervan sal hulle dus in die herfs meer geblikte sop vervaardig sodat hulle genoeg voorraad het vir winterverkope.
 
Selfs jou plaaslike supermark maak gebruik van statistiek om die nuwe tendense te monitor en besluite te neem. Hulle merk dalk dat 25% meer kliënte brood koop op ‘n Woensdag as op ander dae en maak dus seker dat die bakkery op ‘n Dinsdag middag vars brood aflewer eerder as op ‘n Maandag oggend. Dus het hulle genoeg vars brood op hulle rakke op ‘n Woensdag.
 
Voorbereiding vir ongelukke en siektes
Deels van die wonder van statistiek is die feit dat dit gebruik kan word om die toekoms te voorspel. Hierdie is veral belangrik in die mediese professie. So byvoorbeeld verhoog die aantal mense met griepsimptome jaarliks. Indien apteke die nodige syfers ontleed kan hulle naastenby beplan hoeveel griepmedisyne om in voorraad te hou.
 
Op dieselfde wyse gebruik die verkeersdepatement statistiek van die vorige jare om verkeerspatrone te bestudeer – veral byvoorbeeld tydens Desember vakansies wannneer die paaie uiters besig is. Indien meer mense see toe gaan vir die vakansie, kan die verkeerdepartement beplan en kan hulle dus meer beamptes op sekere roetes plaas om te help met verkeersvloei en bystand in geval van padongelukke.
 
Versekering en bemarking
Hier is statistiek veral noodsaaklik. Om die versekeringspremie op ‘n motor te bepaal, moet die versekeringsmaatskappy heelwat inligting versamel. Verskeie faktore kan ‘n rol speel, soos byvoorbeeld die persoon se ouderdom, die aantal jare wat die persoon bestuur, ongelukvrye jare, die tipe motor wat verseker moet word, die ouderdom van die motor, koste om die motor te herstel en vele ander faktore.
 
Bemarkers versamel ook heelwat statistiek om strategieë uit te werk sodat hul kliënte (besighede) meer produkte kan verkoop of beter diens kan lewer.  Hierdie kan so eenvoudig wees as om te bepaal watter kleur ‘n produk moet wees of om te bepaal hoeveel spandeer moet word aan radio advertensies. Hulle sal vorige verkope en begrotings bestudeer om beplanning te doen.
 
Vandat jy wakker word soggens en besluit wat om aan te trek totdat jy tandeborsel met tandepate wat in ‘n blou houer verpak is, word jy gekonfronteer met die resultate van mense wat van statistiek gebruik maak. Jy sal self ook daagliks staat maak op statistieke om besluite te neem. Statistiek is dus ‘n kragtige hulpmddel om die toekoms te voorspel en die verlede te ontleed en is dus van uiterste belang vir ons as wiskunde studente!


Back
Social Media
Contact Us
Cell: 082 8952 966
Email:

Kontak Ons
Sel: 082 8952 966
Epos: